De Meyer De Vries Attorneys | Legal Practice
Home About Us Articles Services Health Issues Blog Contact Us
Home About Us Articles Services Health Issues Blog Contact Us Sitemap
De Meyer De Vries Attorneys | Solution Driven

Our Blog

Login      Write Comment

Previous Articles

Deur Sonja Carstens Woensdag 22 Oktober 2014 2:10 vm.

Oscar Pistorius

Regter Thokozile Masipa is gister geloof omdat sy doodsdreigemente en fel kritiek op haar uitspraak weerstaan het en nie toegelaat het dat dit haar vonnis van Oscar Pistorius beinvloed nie.

"Haar optrede versterk die vertroue in ons regbank," het adv. Dumisa Ntsebeza, wat al as regter waargeneem het, gese.

" 'n Vonnis is 'n regterlike diskresie wat uitgeoefen word. Ongeag wie gedink het sy is reg of verkeerd en al die kritiek, het sy haar onafhanklikheid behou en getrou gebly aan haar eed om die reg sonder vrees of vooroordeel toe te pas. Ek kan haar net loof daarvoor."

Volgens hom word geen regspresedent geskep deur Masipa se hantering van Pistorius se saak nie. "Ons is bevoorreg om 'n regstelsel met genoeg vangnette te he. As daar gemeen word die regter het gefouteer, kan die partye tot in die hoogste hof daarteen appelleer."

Adv. Johann Engelbrecht SC, wat ook al as regter waargeneem het, meen egter Masipa moes die hofverrigtinge van meet af aan fermer gehanteer het. "Haar hantering van die verhoor met alles wat toegelaat is, het wenkbroue laat lig. Waar het 'n mens al 'n braakemmer in hofverrigtinge gesien? Dit het die beeld van die regbank in geheel geskaad," het hy gese.

Volgens hom het Masipa haar met die vonnisverrigtinge baie goed van haar taak gekwyt. "Dit is die regter wat ons deurlopend wou sien," het hy gese.

Delia de Vries, 'n ervare strafregprokureur, meen Masipa het met die vonnis eerder 'n middeweg gekies om al die kritici se monde te snoer. "As dit net nog 'n saak was en nie Oscar Pistorius nie, sou hy korrektiewe toesig gekry het. Daar is egter soveel flaters deur sowel die staat as die verdediging begaan. Pistorius moes van meet af aan skuld beken het op aanklag van strafbare manslag," het sy gese.

Andre Grobler, ook 'n ervare strafregprokureur, het gese Masipa se vonnis is skokkend onvanpas en dra 'n totaal verkeerde boodskap aan die publiek oor. "Die publiek dink hulle het 'n lisensie om te skiet. Die staat het 'n plig om te appelleer," het hy gese.

Willie van der Merwe, nog 'n ervare strafregprokureur, het gese Masipa het die regbank in 'n slegte lig gestel.

"Jy kan nie bevind iemand is grof nalatig en sy optrede het gegrens aan moord dolus eventualis, maar aan die ander kant besluit 'n vonnis wat effektief neerkom op tien maande tronkstraf is gepas nie. Dit is nie behoorlike regspleging nie."

Website developed by: 6137.591